Hierdie brosjure sal u inlig oor die hoofeienskappe van die administrasie van ‘n bestorwe boedel, asook die regsaspekte betrokke.
Dit is raadsaam om ‘n prokureur te raadpleeg om u testament op te stel en daar word aanbeveel dat u prokureur in u testament as die Eksekuteur van u boedel aangewys word.
U prokureur
- sal u adviseer oor enige potensiële probleme wat mag opduik;
- sal enige regsaangeleenthede wat u mag teëkom hanteer;
- het die nodige kennis en vaardigheid om te verseker dat u testament opgestel word in ooreenstemming met u instruksies; en
- sal verseker dat u testament behoorlik verly is en geldig en bindend is ingevolge die Wet op Testamente.
Wat gaan met my testament en bates gebeur wanneer ek sterf?
Die beste manier om te verseker dat u bates na u dood volgens u wil en instruksies verdeel word, is om ‘n testament op te stel. Dit bied aan u die geleentheid om ’n Eksekuteur aan te stel om u bates te hanteer. Indien u sou sterf sonder ’n geldige testament, kan u familie ongerief verduur en selfs ernstige teëspoed beleef.
Waar ‘n persoon sterf sonder ‘n geldige testament, sal die boedel ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging toeval. In sodanige omstandighede sal die boedel toeval aan die langslewende eggenoot of die langslewende eggenoot en kinders van die oorledene en kleinkinders (waar ‘n kind voor die oorledene gesterf het en kinders agtergelaat het). Waar daar geen afstammelinge is nie, sal die ouers erf en, in hulle afwesigheid, sal die broers en susters erf.
Hoe werk die bereddering van ’n bestorwe boedel?
Wanneer ‘n persoon sterf en enige bates of ‘n testament nalaat, moet die langslewende eggenoot – of indien daar nie ‘n langslewende eggenoot is nie, die naaste familielid wat woonagtig is in die distrik waar die dood plaasgevind het – binne 14 dae vanaf die datum van afsterwe, die boedel op die voorgeskrewe wyse by die Meester van die Hoër Hof aanmeld.
Nadat die boedel aangemeld is, stel die Meester ‘n Eksekuteur aan deur ‘n Eksekuteursbrief (as die oorledene se bates ‘n bruto waarde van meer as
R125 000 het) of ‘n Magtigingsbrief (as die oorledene se bates ‘n bruto waarde van minder as R125 000 het) uit te reik.
U prokureur het die vaardigheid en kennis om u by te staan met die voorbereiding van die nodige aanmeldingsdokumente en om die behoorlike bereddering van die boedel te behartig.
Wie kan aangestel word as ’n Eksekuteur om die bereddering van ‘n boedel te behartig?
Dit is raadsaam om u prokureur as Eksekuteur aan te stel, omdat hy/sy:
- bekend sal wees met die bepalings in u testament;
- sal weet waar u bates is;
- algemene inligting sal hê van u familieaangeleenthede;
- in staat sal wees om u boedel af te handel en oordragregistrasies van enige vaste eiendom vinnig uit te voer; en
- gespesialiseerde regskennis van die beredderingsproses sal hê.
‘n Familielid kan egter ook saam met u prokureur as Eksekuteur aangestel word.
Wat is die Eksekuteur se rol?
Daar word van die Eksekuteur verwag om
- die oorledene se bates in te vorder,
- sy/haar laste te vereffen,
- enige legatarisse te betaal, en
- die balans van die boedel onder die erfgename te verdeel ingevolge die testament van die oorledene of die Wet op Intestate Erfopvolging waar die oorledene dood is sonder ‘n testament.
Die Boedelwet laat in uitsonderlike omstandighede toe dat die langslewende eggenoot die eiendom van die oorledene of ‘n gedeelte van die eiendom oorneem, onderhewig daaraan dat voldoende sekuriteit deur die langslewende eggenoot verskaf moet word om enige minderjarige se gedeeltes te beveilig